Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 1 DESEMBER 2019

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

DIE 5 EN 10 MHZ WAZS EN WAGS NAWEEK

DIE UITSLAE VAN DIE SARL WOENSDAG 80-METER KLUB NAELLOOP

en

DIE DESEMBER RADIO ZS

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus.

DIE 5 EN 10 MHZ WAZS EN WAGS NAWEEK

Die meeste radio-amateurs spandeer tyd op 80- en 40-meter op soek na kontakte vir hul Worked All ZS en Worked All Grid Squares toekennings. Maar daar is radio-amateurs wat van 'n uitdaging hou en daarom kan jy oor die naweek van 7 en 8 Desember 2019 aan die 5 en 10 MHz WAZS- en WAGS-uitdaging deelneem.

Hierdie is NIE 'n kompetisie nie! Dit is 'n geleentheid om die nodige QSOs vir jou WAZS en WAGS op die 60- en 30-meter bande te kry en 'n geleentheid om inligting oor die propogasie van hierdie twee bande in te versamel.

Die uitdaging duur van 00:00 SAT op Saterdag 7 Desember tot 23:59 SAT op Sondag 8 Desember. Let op dat ESB-aktiwiteite op 30-meter slegs gedurende plaaslike dagligure is, gelykgolf en digitale modusse is 24/7. Vir die voortplanting studie, stuur 'n afskrif van jou log na zs4bfn@mweb.co.za. En as jy die vereiste QSOs het, moet jy aansoek doen vir jou Worked All ZS en Worked All Grid Squares op 60- en 30-meter.

VYF MHZ VIR DIE FALKLANDSE EILANDE

Die Kommunikasie Reguleerder van die Falklandse Eilande het groot veranderinge aan die Falklandse Eilande se Kommunikasie Wette aangekondig. Hierdie is op 11 November 2019 in die amptelike Falklandse-eiland Staatskoerant gepubliseer en het op 15 November 2019 in werking getree. Een daarvan het daartoe gelei dat die nuwe WRC-15 60-m Sekondêre allokasie beskikbaar geword het vir Falklandse Radio Amateurs. Die allokasie 5 351,5 - 5 366,5 kHz, met 'n maksimum drywing van 25 W EIRP, is toegeken vir amateur radio bedrywighede op die eilande.

TOETSING VAN DIE SARL E-POSSTELSEL

'n Nuwe e-posstelsel is die afgelope naweek geïnstalleer en gebruik vir die verspreiding van SARL-nuus. En die ‘gremlins’ het besluit om te help. Baie dankie aan Peter, ZS1PHD wat gedurende die week toetse op die stelsel gedoen het om die proses vlot te laat loop.

SLUIT AAN BY DIE SARL TEEN DIE HALFJAAR TARIEF

Vanaf Vrydag 29 November 2019 kan jy by die SARL aansluit en die half-jaar tarief betaal wat normaal weg op 1 Januarie in werking tree. Voltooi die SARL lidmaatskap aansoekvorm en betaal jou ledegeld per EFT oor na die SARL-bank rekening. Gewone lede betaal R250; Senior lede (ouer as 65) betaal R150; Eggenote betaal R90 en studente lede betaal R60. Die bank besonderhede is SA Radio League, ABSA, rekening nommer 4071 588 849, takkode 632 005 en tik jou roepsein in die verwysingsveld.

DIE 2020 NASIONALE KONVENSIE

Het jy al daaraan gedink om 'n mede-radio amateur te nomineer vir een van die SARL-toekennings of trofeë? Iemand wat die ekstra myl vir die klub en amateur radio geloop het! In die Desember 2019-uitgawe van Radio ZS vind jy inligting oor die SARL-toekennings en trofeë. Ook meer oor die 2020 Nasionale Konvensie wat op 3 en 4 April 2020 gehou sal word en die oproep om mosies en benoemings op die Raad te dien. Watter Klub is van plan om die 2021 SARL Nasionale Konvensie aan te bied? Die betrokke dokumente kan gevind word op die AJV-dokumente-bladsy in die lede-afdeling op die Liga se webwerf. Die sluitingsdatum vir benoemings vir toekennings, Raad en mosies is Vrydag 31 Januarie 2020. Moenie wag tot 30 Januarie om u nominasies in te stuur nie, doen dit nou!

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

DESEMBER RADIO ZS

Die Desember-uitgawe van Radio ZS is beskikbaar om af te laai. Lees die boodskap van die SARL President en kry al die inligting oor die 2020 SARL Nasionale Konvensie. Vind uit wat het by WRC-19 gebeur. Wat het aardbewings en HF-voortplanting met mekaar te doen? ZS6AKV sê son toestande lyk gunstig vir ruimteverkenning en ZS3RW wys jou wat SARL Hamnet Noord-Kaap gedoen het.

In die BHF/UHF Nuus kolom kan jy uitvind hoe om 'n verskietende ster te vang, terwyl ons in die HF Nuus kolom na die WARC-bande kyk. Ons kyk na 'n paar antenna-idees en vertel jou meer oor die aand voor Kersfees. En daar is vele meer in hierdie 60 bladsy uitgawe.

DIE KONSEP 2020 KOMPETISIE HANDLEIDING EN DAGBOEK VAN GEBEURE

Baie dankie aan die Klubs en individue wat reageer het met die kommentaar vir die konsep 2020 Kompetisie handleiding en die Dagboek van Gebeure. Die twee dokumente sal nou gefinaliseer word en op gelaai word na die Liga webwerf. 'n A3-groote jaar kalender gaan ook beskikbaar gestel word.

KOMPETISIE NUUS

Die kompetisie komitee het 52 logstate ontvang vir die afgelope Woensdag 80-m Klub Naelloop, insluitend 'n kontrolelog. Hierdie 52 logstate weerspieël 1 071 QSOs gedurende die aand van 20 November.

1ste Boland-ARK - 1 339 punte uit 19 logstate
2de Bo-Karoo ARK - 722 punte vanaf 12 logstate
3de Wesrand ARK - 612 punte vanaf 12 logstate
4de Hibiskuskus ARK - 173 punte vanaf 4 logstate

Die algehele resultate ná die 5 naellope:
1ste Boland ARK - 3 736 punte
2de Wesrand ARK - 2 875 punte
3de Bo-Karoo ARK - 2 355 punte
4de Hibiskuskus ARK - 599 punte

Die top deelnemers is:
1ste David de Kock, ZS1DDK - 413 punte
2de Romeo Nardini, ZS6ARQ - 365 punte
3de Cliff Jones, ZS6BJU - 246 punte

'n Opsomming van die Woensdag 80-m Klub Naelloop word in die volgende HF Happenings gepubliseer. Baie geluk aan die Boland ARK en baie dankie aan elkeen wat deelgeneem het.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Daar is tans geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Radio amateurs kan veral met sonsondergang bruikbare DX openinge op die 17 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.


Nou die Dagboek van Gebeure vir die volgende paar weke:

Vandag – die begin van die YOTA Maand
2 Desember – die sluitingsdatum vir BHF/UHF Analoog logstate
4 Desember – die Provinsiale skole sluit
7 en 8 Desember - die 5 en 10 MHz WAZS en WAGS naweek
9 Desember – die sluitingsdatum vir Nuweling Geselligheid logstate
14 en 15 Desember – die ARRL 10-m kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die meeste radio amateurs spandeer tyd op 80- en 40-meter op soek na kontakte vir hul Worked All ZS en Worked All Grid Squares toekennings . Maar daar is radioamateurs wat van 'n uitdaging hou en daarom kan jy oor die naweek van 7 en 8 Desember 2019 aan die 5 en 10 MHz WAZS- en WAGS-uitdaging deelneem.

Hierdie is NIE 'n kompetisie nie! Dit is 'n geleentheid om die nodige QSOs vir jou WAZS en WAGS op die 60- en 30-meter bande te kry en 'n geleentheid om inligting oor die voortplanting van hierdie twee bande in te versamel.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Heruitsending deur Andy, ZS6ADY vind op Maandae aande om 19:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 620 kHz plaas. Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Herman Erasmus, ZS1CTA en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003