Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 22 DESEMBER 2019

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

WAAR IS DIE NOMINASIES?

95 JAAR EN STAAN STERK

en

DIE SARL GEREGISTREER AS 'N KLUB OP KLUBLOG

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

WAAR IS DIE NOMINASIES?

Deel van die SARL Nasionale Konvensie is die Algemene Jaarvergadering (AJV) en die Toekenningsdinee. Tot op hede het die SARL Sekretaris nog geen benoemings vir enige SARL Toekennings en Trofeë en ook geen mosies vir bespreking by die AJV ontvang nie. Die toepaslike dokumentasie kan afgelaai word vanaf die AJV Dokumente-bladsy op die Lede-Alleenlik deel van die Liga webwerf. Moenie wag tot 30 Januarie nie, doen dit nou! Die sluitingsdatum vir mosies en toekennings nominasies is middernag op Vrydag 31 Januarie 2020 en moet gestuur word aan: secretary@sarl.org.za

DANKIE, PETER, ZS1PHD

Die SARL-raad en lede wil Peter Hers, ZS1PHD bedank vir sy waardevolle werk in die reël van die verskuiwing van die Liga webwerf na die nuwe Internet Diens Verskaffer en die toets van die verskillende e-posstelsels. Lede sal die afgelope Saterdae meer as een keer SARL-nuus ontvang het, omdat probleme geïdentifiseer en reggestel is. Peter, baie dankie!

95 JAAR EN STAAN STERK

Die SARL word in 2020 ‘n volle 95 jaar oud en groei steeds van krag tot krag. Ons herleef elke jaar die opwinding van radio, 'n tegnologie wat die wêreld verander het en dit nog steeds op verskillende vlakke in ons samelewing daagliks doen. As Radio-amateurs is ons bevoorreg om deel hiervan te wees.

Die fokus van die wêreld was vir baie jare op die HF-spektrum gewees, maar namate ons ons negentigste jaar van georganiseerde amateur radio in Suid-Afrika betree, verander hierdie fokus vinnig en beweeg dit na die BHF, UHF en mikrogolf spektrum. Alhoewel die kommersiële wêreld glo dat hierdie deel van die radiospektrum soveel meer het om te bied, is dit nie veel anders as die amateur radio omgewing. Die BHF en hoër spektrum bied baie nuwe geleenthede vir Radio Amateurs om aan die wêreld te wys dat dít wat ons in 1925 gemotiveer het, nog dieselfde is en steeds groei.

Met die vakansieseisoen op hande, bied dit ons die geleentheid om projekte te voltooi wat op die agtergrond geplaas het. Dit is 'n tyd waarin ons dit kan geniet om met ons mede-amateur vriende te gesels en meer tyd het om saam met familie en vriende te spandeer.

Ons was hierdie jaar bevoorreg om vele geleenthede te ervaar wat die amateur radiodiens vir ons bied. Vanaf die uitstalling by Hobby-X in Johannesburg gedurende Maart vanjaar waar ons eerste klas interaksie met die algemene publiek oor die amateur radio uitstalling gehad het, tot interaksie met die RAE-kandidate. Dit sluit in die blootstelling aan die vele prestasies van individue, groepe en klubs tot ons Tegnologie dag en 'n algemene jaarvergadering gedurende April vanjaar in Stellenbosch.

Die SARL is geseënd om 'n toegewyde span vrywilligers, lede en geaffilieerde klubs te hê wat ons met hul ongelooflike lojaliteit ondersteun om te verseker dat 2019 afsluit as nóg 'n onvergeetlike jaar. Julle harde werk, deelname en ondersteuning het verseker dat ons in staat was om saam te leef, te lag, te groei, te eksperimenteer, te werk en te leer.

Die Raad en myself wens ons lede en hul gesinne 'n veilige en feestelike vakansie toe met hartlike groete vir die seisoen. Mag u en u geliefdes 'n aangename vakansietyd beleef, en 'n nuwe jaar gevul met vrede, vreugde en sukses tegemoet gaan.

DIE JANUARIE 2020 RADIO ZS

Die Januarie 2020-uitgawe van Radio ZS word op Vrydag 27 Desember op die Liga webwerf op gelaai. In hierdie uitgawe kan jy lees oor hoe jy uit die radiokamer kan kom en nuwe geleenthede ontdek; Jonathan, ZS1ARB bespreek QRP en motorfietse - lesse geleer van 1 500 km grondpad en Dennis, ZS1AU vertel ons van ZS1LP/MM en die 1982/83 BOC Rondom die Wêreld seiljag ren.

Dennis, ZS4BS gee jou al die inligting oor die Suider-Afrikaanse Fauna en Flora-program of Parke-op-die-Lug (POTA) en die vier sertifikate wat beskikbaar is vir die aktivering van parke gedurende 2020. Ons kyk na die 6-meter bandplan na WRC-19, RF-besoedeling van sonkrag paneel installasies en elektrostatiese ontlading (ESD).

Eddie, ZS6BNE kry sy kleinseun betrokke by weersatelliete in die RaDAR-kolom, dan kyk ons in die Museum Stuk na die sinking van die U-197 en Brian, ZS6YZ, vertel van die Bethlehem 2 m baken. En daar is baie meer in die 70 bladsy plus uitgawe.

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

DIE SARL GEREGISTREER AS 'N KLUB OP CLUBLOG

Danksy die inisiatief van Nickus de Vos, ZS6J, is die SARL geregistreer as 'n Klub op ClubLog wat ons lede in staat sal stel om hul posisie teenoor hul eweknieë te meet. Bestaande SARL- ClubLog gebruikers wat wil aansluit, word uitgenooi om op ClubLog aan te teken, na instellings te gaan, dan klubs te kies en SARL te kies om lidmaatskap aan te vra. Die administratiewe kant van die "SARL-klub" op ClubLog word versorg deur Nickus, ZS6J, wat gekontak kan word by: shack@zs6j.co.za.

'n Kort inleiding tot ClubLog. ClubLog is 'n aanlyn databasis met 'n reeks kragtige instrumente wat aktiewe DXers ondersteun. Nadat jy op die ClubLog geregistreer het en jou logboek gelaai het, sal jy persoonlike verslae kan genereer, met 'n aanduiding van watter DXCC-lande jy gewerk het en/of bevestig het, wanneer jy dit eers gewerk het, watter lande jy nog benodig en watter is die meeste waarskynlikste om te QSL (die verslae van ClubLog is omvattend en buigsaam).

Jy kan sien hoe jy teenoor jou eweknieë staan in verskillende liga tabelle en uitdagings (weereens, die verslae is baie buigsaam - met 'n paar klikke kan jy byvoorbeeld 'n spesifieke liga tabel skep met 'n lys van hoeveel DXCC-lande of CQ-sones gewerk is deur verskillende Afrika amateurs op 20 m GG die afgelope jaar – byna net so maklik soos 'n globale liga tabel wat alle bande, alle modusse en alle jare sedert 1945 dek ... en nog baie meer).

Ons is daarvan oortuig dat Nickus se inisiatief die mededinging vlam van ons lede sal aanwakker.

AKTIWITEITE IN JANUARIE 2020

Afgesien van die viering van SARL 95 in 2020, is dit ook 200 jaar sedert die koms van die 1820 Setlaars in Suid-Afrika. Op 17 Maart 1820 het die eerste Setlaar-skip in Kaapstad aangekom. Ongeveer 60 verskillende groepe het tussen April en Junie 1820 in Algoabaai geland. Hulle het plase naby die dorp Bathurst in die Oos-Kaap en ander nedersettings in die omgewing gekry. 'n Groep van die 1820-setlaars is verder na Natal. Hier is 'n geleentheid vir 'n Klub om 'n spesiale geleentheid stasie te aktiveer om hierdie geleentheid te vier.

Die ARRL Kinderdag is op Saterdag 4 Januarie op die lug. Die eerste been van die SARL Woensdag 80 m Klub Naelloop is op Woensdag 15 Januarie op die lug met die PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie oor die naweek van 17 tot 19 Januarie. Die Somer QRP-kompetisie vind op Saterdag 25 Januarie plaas.

RAE-KLASSE IN DIE BELLVILLE- EN KAAPSTAD GEBIED

Karl, ZS1KC begin einde Januarie 2020 weer met die RAE-klasse by die Rescue Medics, 21 1ste Laan, Boston/Bellville. Hierdie klasse word elke Dinsdag van 19:00 tot 21:00 aangebied en daar is plek vir 12 leerders. Belangstellendes moet Karl, ZS1KC kontak by 083 955 7177 of 021 205 5827 of per e-pos na: karlc@ipsecurityservices.co.za

Nou die Dagboek van Gebeure vir die volgende paar weke:

Vandag – Somersonstilstand
23 Desember – Die Ursids meteoriete
25 Desember – Kersdag
26 Desember - Familiedag
31 Desember – Die einde van die 2019 CQ DX Marathon en die YOTA maand
1 Januarie – Nuwejaarsdag, die begin van die 2020 CQ DX Marathon en die Suider-Afrikaanse Parke-op-die-Lug program en laai die 2020 Blouboek af
4 Januarie - Die ARRL Kinderdag
4 en 5 Januarie - Die ARRL RTD Byeenkoms
15 Januarie - Die SARL Woensdag 80 m Klub Naelloop en die sluitingsdatum vir die indiening van die samevatting van referate vir die AMSAT SA Ruimte-simposium
17 tot 19 Januarie - Die PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie

Om hierdie bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Deel van die SARL Nasionale Konvensie is die AJV en die Toekenningsdinee. Tot op hede het die SARL Sekretaris nog geen benoemings vir enige SARL Toekennings en Trofeë en ook geen mosies vir bespreking by die AJV ontvang nie. Die toepaslike dokumentasie kan afgelaai word vanaf die AJV Dokumente-bladsy op die Lede-Alleenlik deel van die Liga webwerf. Moenie wag tot 30 Januarie nie, doen dit nou! Die sluitingsdatum vir mosies en toekennings nominasies is middernag op Vrydag 31 Januarie 2020 en kan gestuur word aan: secretary@sarl.org.za

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Heruitsending deur Andy, ZS6ADY vind op Maandae aande om 19:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 620 kHz plaas. Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, Geredigeer deur Herman Erasmus, ZS6CTA en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou en jou familie ‘n Geseënde Kersfees toe.

Totsiens.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003