Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 2 FEBRUARIE 2020

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur Johan, ZS6JPL. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

EERSTE ZS NA ANTARKTIKA QSO VIA QO-100

DIE NUWE IARU-WEBTUISTES GAAN LEWENDIG

en

DIE SARL NASIONALE VELDDAG OP 8 EN 9 FEBRUARIE

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

DIE ADV GG AKTIWITEITSDAG VANDAG

Die Antieke Draadloos Vereniging GG Aktiwiteitsdag vind van 13:00 tot 15:00 UTC vanmiddag plaas met die doel om soveel moontlik amateurs op die 20, 40 en 80 m amateur bande te kontak. Die uitruil is 'n RST-verslag, jou naam en Ruitblok en daar is 4 klasse deelname. Logstate moet teen Maandag 17 Februarie 2020 by andyzs6ady@vodamail.co.za ingedien word. Die reëls kan gevind word op bladsy 20 van die 2020 SARL-Kompetisiehandleiding.

EERSTE ZS NA ANTARKTIKA QSO VIA QO-100

Op 22:20 UTC (00:20 SAT), Woensdagoggend, 29 Januarie, het Gary, ZS6YI die eerste Suid-Afrikaanse stasie geword om 'n QSO met Felix te maak by DP0GVN, die stasie by die Duitse Neumayer-basis in Antarktika. Welgedaan Gary!

DIE NUWE IARU-WEBTUISTES GAAN LEWENDIG

Vroeër in die week is die nuwe IARU-webwerf op www.iaru.org lewendig gemaak met nuwe materiaal wat bygevoeg is. Die drie Streke se webwerwe is ook lewendig gemaak en die Streek 1-webwerf kan besoek word by www.iaru-r1.org. Neem die oomblik om die nuwe Streek 1-werf te verken en onthou dat as jy van jou eie webwerf na hierdie webwerf skakel, jy die hiperskakels moet opdateer om die nuwe bladsy-adresse weer te gee.

Don Beattie, G3BJ, president van die IARU-streek 1, het gesê: "Baie dankie aan die vele inhoud eienaars in Streek 1 wat hul inhoud as deel van die proses hersien en opgedateer het en aan Marko, 9A8MM, die webmeester."

DIE FEBRUARIE 2020 RADIO ZS

Die Februarie-uitgawe van Radio ZS is op Maandag 27 Januarie na die web opgelaai. In hierdie uitgawe kan jy lees oor elektriese heinings, 'n bron van valse emissies en 'n koppelvlak vir die digitale modusse. Die 7X7X DXpedisie en die 2019 A21EME Mikrogolf DXpedisie is in hierdie uitgawe. Woody, ZS3WL vertel van die seiljagvrou met soutwater in haar are en jy kan uitvind hoe jy die Es’hail-2 Geosat kan ontvang. Die Foxhole-radio word in die Museumstuk bespreek, daar is twee artikels oor baluns en 'n artikel oor 'n delta-lus antenne. Klik op Publikasies aan die linkerkant van die Liga-webwerf en laai Radio ZS af.

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

DIE SARL NASIONALE VELDDAG OP 8 EN 9 FEBRUARIE

Die eerste been van die Nasionale Velddag vind plaas vanaf 10:00 UTC op Saterdag 8 Februarie tot 10:00 UTC op Sondag 9 Februarie 2020 met foon, GG en digitale (PSK, RTD en FT8) aktiwiteit op die HF amateur bande, uitgesonderd die 2 200, 630, 30, 17 en 12 meter bande.

Daar is ses klasse waaraan jy kan deelneem, wat wissel van 'n tuis stasie tot 'n buitelug stasie. Die Hibiskus-ARK sal vanaf 'n natuurreservaat, ZS/FF-0462, deelneem. Toerusting vir veldstasies mag slegs 24 uur voor die aanvang van die kompetisie opgestel word. Hierdie beperking geld vir antennas, maste, torings en radiotoerusting, maar sluit nie akkommodasie soos 'n karavaan, tent, ens., in nie.

Die uitruiling is die aantal senders, die Velddag-bedryfsklas en die provinsiale afkorting. Die stuur van 'n RS of RST verslag ís opsioneel - dit het niks met die puntetelling te doen nie. Elke kontak met 'n stasie in een van die Suid-Afrikaanse provinsies tel vyf punte en elke DX-kontak tel een punt. Daar is krag-, provinsiale en klas vermenigvuldigers vir die puntetelling.

Logstate in ADIF-, Cabrillo- of MS Excel-formaat met 'n opsommingsblad met die naam 'Jou roepsein NFD', sal per e-pos gestuur word aan contest@sarl.org.za. Die sluitingsdatum vir die indiening van die logstaat is 17 Februarie 2020. Foto of fotos’s van die stasie in werking (JPG-formaat) MOET elke loginskrywing vergesel. Die volledige stel reëls is te vind op bladsy 37 van die 2020-Kompetisiehandleiding.

DIE SOMER QRP-KOMPETISIE

Die kompetisie komitee herinner die deelnemers daaraan dat die sluitingsdatum vir indiening van jou logstaat Sondag 2 Februarie is en dat logsate voor middernag die kompetisie komitee moet bereik.Stuur jou log na contest@sarl.org.za
DIE UITSLAE VAN DIE WOENSDAG 80 M KLUB NAELLOOP

Die kompetisie komitee het 60 logstate ontvang vir die 80 m Klub Naelloop gehou op Woensdag 15 Januarie. Vier van die logstate is kontrole logstate.
1ste die Wesrand ARK - 1 016 punte uit 20 logstate
2de die Boland ARK - 836 punte vanaf 18 logstate
3de die Bo-Karoo ARK - 412 punte uit 8 logstate
4de die Magalies ARK - 134 punte uit 3 logstate
5de die Bloemfontein ARK van - 88 punte vanaf 1 logstaat
6de die Hibiskus-ARK - 82 punte uit 2 logstate
7de die Kaapstad ARS - 62 punte vanaf 1 logstaat
8ste die Rustenburg ARK - 30 punte vanaf 1 logstaat
9de die Sandton ARK - 16 punte vanaf 1 logstaat
10de die Noordkaap ARK - 10 punte vanaf 1 logstaat

Johan, ZS1A het 17 ruitblokke gewerk, gevolg deur Woody, ZS3WL en Kobus, ZS6BOS met 16 ruitblokke en Pieter, ZS6XT, Helgard, ZS6HON en Jadranko, ZS6DJA met 15 ruitblokke.

DIE RUSTENBURG ARK AJV

Die Rustenburg ARK het op 25 Januarie sy AJV gehou. Die volgende lede is tot die komitee verkies.
Voorsitter: Lukas Holtzhausen, ZS6LH
Ondervoorsitter: Dawid Jansen van Rensburg, ZS6VS
Sekretaris: Ronel Jansen van Rensburg, ZS6SBV
Tegnies: Gene Niemand, ZR6CEN en Nols Lochner, ZS6ACL

Baie geluk aan die komiteelede.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Tans is daar 'n enkele, klein sonvlekkie sigbaar maar daar word nie sonfakkels verwag nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van twee vir die week gebruik. Radio amateurs kan bruikbare DX openinge op die 15 tot 30 m bande verwag.
Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Nou die Dagboek van Gebeure vir die volgende paar weke:

Vandag – AWA GG Aktiwiteitsdag en die sluitingsdatum vir die Somer QRP kompetisie logstate
7 en 8 Februarie – die SARL Raad vergader by die NARS
8 en 9 Februarie – die SARL Nasionale Velddag
13 Februarie – Wêreld Radio Dag
22 Februarie - die 2020 AJV-boekie beskikbaar vir aflaai
23 Februarie – die SARL RTD Kompetisie
27 Februarie - Internasionale Melktert dag
28 Februarie - sluitingsdatum vir samevattings van AMSAT SA referate

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die Antieke Draadloos Vereniging GG Aktiwiteitsdag vind van 13:00 tot 15:00 UTC vanmiddag plaas met die doel om soveel moontlik amateurs op die 20, 40 en 80 m amateur bande te kontak. Die reëls kan gevind word op bladsy 20 van die 2020 SARL-Kompetisiehandleiding.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte. indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Heruitsending deur Andy, ZS6ADY vind op Maandae aande om 19:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 620 kHz plaas. Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn,ZS6JHB en gelees deur ...........................................................

Van die Nuusspan, beste wense vir die week wat voorlê!


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003